Wednesday, March 30, 2011

Dinsdag 29 Maart 2011 : Zurich

Ek en Benna is vroeg oggend Zurich toe om die stad te gaan verken - gelukkig weet ek dat dit help om met die tremme ook die strate te verken en koop ons vir 7Frank 'n tremkaartjie by die treinkaartjie - dit beteken jy mag soveel as wat jy wil reis op die tremme vir een dag. Hier is Bennie in die bekende Zurich stasie gebou.

Ons is nog steeds amazed met die switsers wat so presies is - die treine vertrek werklik op die tye wat hulle se hulle gaan vertrek - dit gee mens die gerusstelling dat jy weet as 'n time-table se wees 9 uur daar dan sal hulle nege uur vertrek (behalwe as die trein breek of so ..). Dit is in teenstelling met Suid-Afrika waar ons nie verbaas is as goed nie gebeur presies soos wat mens dit skeduleer nie - dit is eintlik hartseer .. ek dink dit is deels ook ons eie skuld want ons akkomodeer mense wat laat is vir vergaderings.

Bennie is op soek na 'n horlosie en ek en hy stap die bekende Banhoffstrasse op en af tussen die verskillende winkels - alhoewel meeste winkels boutiques is, is van die afdelingwinkels se goedere dieselfde pryse as in die res van Switzerland. Bennie kry 'n paar sleutelhouers ..

In die begin is ons maar bietjie deurmekaar maar sodra jy jouself op die kaart gevind het gaan dit darem beter. Selfs die tremme is minder van 'n uitdaging as jy net eers die nommers en die rigting uitgesorteer het.

Ons besoek 'n paar van die bekende kerke in Zurich en stap in die ou stad rond. Bennie se favorite winkel is hier regs ... alhoewel dit 'n skande is wat dit kos om 'n hamburger en tjips by McDonalds te eet (ongeveer R100), is dit nog steeds van die goedkoopste etes in Switzerland.

Ons kry uiteindelik vir Benna 'n horlosie in Bahnhoffstrasse by Swatch .. hy is verlief op die horlosie en omdat Swatch in Suid-Afrika ook is sal ons darem die ding kan terug neem as daar iets met hom fout gaan. Dit het nie 'n battery nie - 'charge' deur die beweging van jou arm = amazing ..

Laatmiddag besoek ons die pragtige Landmuzeum waar Switserland se geskiedenis gereflekteer word. Werklik die moeite werd om te besoek. Ons eet aandete by die 87-jarige Zeughauskeller - 'n pragtige restaurant wat nog die konsep van 'n BORD kos verstaan - beslis waarde vir geld!

Monday, March 28, 2011

Maandag 28 Maart 2011: Lucern

Vroeg vanoggend het ek en Bennie Engelberg gegroet en vertrek tot in Lucern. Ek het gesit en werk in die trein terwyl Bennie die omgewing beloer het. Ons wou aanvanklik nog vanoggend die dag in Engelberg gebruik het, maar dit het begin reen wat beteken nie 'n goeie dag vir buite wees nie.


In Lucern het ons ons tasse in lockers gepak wat ons die vryheid gegee het om die dorp te verken. Ons eerste stop was by die pragtige Jesuit Church of Lucerne. Die pragtige kerk dateer uit die 15'e eeu waar dit aanvanklik 'n College was vir Jesuits.

Na ons besoek aan die pragtige kerk, stap ons oor die bekende Chapel Bridge wat gedeeltelik afgebrand het maar waar mens nog die pragtige kunswerke teen die dakplate kan sien. Die brug dateer uit die 14'e eeu uit is 204 meter lank en gaan oor die Reuss Rivier. Dit is die oudste hout brug in Europa.

Bennie oortuig my om by Starbucks te stop vir 'n White hot chocolate .. grrr .. wat 'n teleurstelling .. alhoewel hy nie kla nie was dit heeltemal te soet na my smaak .. Nota aan ALTA .. onthou al die vorige kere wat jy jouself belowe het om nie weer white chocolate te drink nie.


Ons stap deur die ou dorp en besoek een of twee kerke voordat ons laatmiddag vertrek met die trein na Olten. Knut en Anja kry ons vir 'n heerlike aandete en kuier by hulle huis.


Sunday, March 27, 2011

Sondag 27 Maart 2011 : Engelberg

Alhoewel ek en Bennie saam die hoenders gaan slaap het op Saterdagaand het ons tot 7 uur geslaap op Sondagoggend. Ons maak reg, eet heerlik ontbyt en vertrek 9am na die slopes sodat hy darem nog kan oefen voor sy 11 uur les .. by die Titlis vertrekpunt is al die horlosies op 10am gestel .. vir 'n oomblik dog ek my horlosie het gaan staan .. maar toe nie - die laaste Sondag van Maart word horlosies een uur aangeskuif sodat die tyd dieselfde as SA tyd is .. he he .. daar verloor ons toe weer die uur wat ons gewen het.

By die slope is Bennie soos 'n professionele snowboarder dadelik teen die walle af .. sy instruktrise is op die kop 11 uur daar en die twee spandeer 2 ure in mekaar se geselskap teen die hange van die berg .. verseker was dit die moeite werd om die geld te betaal want teen 1 uur kan Bennie al oulike lang s-draaie en selfs kort s-draaie maak.

Ons vertrek terug na Engelberg rondom 3:30 - Benna neem 'n heerlike warm stort en ons moet eers al die toerusting gaan terug gee .. ons het oorweeg om dit vir nog 'n dag te hou maar die weervoorspelling se dit gaan Maandag reen so dit sal dom wees om dit te huur en dan dit nie te kan gebruik nie.

Ons besoek die Engelberg Monastery .. vir 'n oomblik of twee is dit leeg en ek wys Bennie die ongelooflike akoestiek as gevolg van die hoe dakke ... hy sing ook 'n frase of twee .. dit is ongelooflik hoe die klank weergalm in die gebou.

Ongelukkig kan ons nie in die Monastery deel ingaan nie - ek vermoed dit mag dalk in die dag oop wees .. die gebou is aanvanklik in die 11'e eeu gebou maar het twee keer afgebrand .. die geboue wat nou staan kom uit die 17'e eeu uit en word hoofsaaklik gebruik vir studente wat hier studeer.

Ons gaan eet in die kroegie net buite hotel Bellevue waar die porsies werklik ruim is .. Bennie bestel 'n bord vol Machos en dit is genoeg dat ek my soppie ook kan aanvul. Na ete stap ons eers 'n draai om die kos te laat sak - dit is redelik laat nog lig wat sekerlik verduidelik hoekom die dayligth saving nou begin. Ek dink dit is wat ek die meeste mis as ek in Suid-Afrika is .. die vryheid om lang ente te gaan stap sonder om bang te wees iemand gaan jou erens oor die kop slaan.

Na ons stappie sit ek nog 'n bietjei en werk en Benna post op Facebook .. ons is eintlik beide moeg van die baie berglug en net na 9 in die bed .. ons kan beslis nie kla van te min slaap nie ...

Saturday, March 26, 2011

Saterdag 26 Maart 2011 : Titlis

Ek en Bennie het gisteraand net na 8 in die bed geklim .. ons geryery het ons lekker moeg gemaak en ons was te bly om onder die verekomberse in te kruip. Ons het heerlik geslaap tot net voor 7 toe die sonnetjie deur ons vensters begin loer het. Die ontbyt was 'n tipiese Europese ontbyt met Croissants en kase .. gelukkig vir my was daar darem ook vrugte en eiers en bacon .. Die hotel is duidelik gerig op die jonger geslag wat nie werklik om gee vir luukses nie - hier is baie kamers wat nie hul eie badkamers het nie. Als is skoon en ek sou werklik die hotel aanbeveel vir jong mense wat iets goedkoper soek maar nie kans sien vir backpakers nie.

Net voor 9 is ons met Bennie se snow bord onder die arm op teen berg Titlus. Ek is verstom oor die massa mense want alreeds so vroeg in die oggend hier teen die berge op gaan ..

Die hoogste punt van Tiltis is 3238 meter .. om daar te kom neem ongeveer 45 minute met drie verskillende kabelkarretjies. Eers prop hulle so 6 mense in 'n kleinerige kabelkarretjie wat by Gerschnailp (1262m) stop en ry tot by Trubsee (1796m). Daarna is mens ingedruk in 'n groterige kabelkar wat seker so 30 mense kan vat, tot by Stand (2428). By Stand klim mens dan in die roterende kabelkar wat jou tot by Tiltis neem.

By Tiltis het ek en Benna eers 'n koeldrankie deurgewerk. Tipies vir 'n toeriste plek kos 'n koeldrank astronomiese bedrae - 'n Coke zero was 5.5 Swizz Frank (ongeveer R35) wat in die winkels maar 'n skamele R10 is.

Op die 5'e verdieping van die Tiltis gebou kan mens uitstap met 'n asemrowende view van die berge om jou. Ons was pas buite toe begin dit sneeu .. mens kan sommer die vreugde op Bennie se gesig sien. Hy het die sneeu buite getrotseer maar ek was nie so dapper nie .. het saam met die Chinese toeriste in die binnekant rond gehang totdat ons beide na die glacier grotte toe gegaan het op die eerste vloer. Dit is ongelooflik hoe warm dit is binne in die glaciers. Alhoewel die mure van ys is is dit relatief warm .. dit verklaar seker hoekom die Eskimo's hulle huisies van ys kan bou.

Rondom 11 uur het ons die summit begin afgaan tot by Gerschnailp (1262m) waar die beginners leer ski en snowboard. Ons eet heerlike kaas en ham broodjies asook tjips. Die tjips in Switzerland smaak beslis anders as in Suid-Afrika. Ek is nie seker of dit die tipe artappel is wat hulle gebruik en of dit die olie is wat anders proe nie ..

Nietemin .. teen 12:30 is Ben en sy sexy jong instruktrise teen die hellings af .. Verbasend gou kan Benna sy lyf heen en weer begin beweeg om selfs die hoer hellings aan te pak .. beslis baie meer dapper as sy ma. Lyfseer en moeg pak ons die terugtog teen 4 uur se kant aan.
Vroegaand probeer ek en Benna inkom by ons Lokale Bar vir 'n ligte snack om tot ons ontsteltenis uit te vind plek is 'n probleem .. duidelik is Engelberg se paar eetplekke gou vol bespreek en moet ons dus by die Engelberg Hotel ten duurste eet ..
Dit is nou pas na 8:34 en Bennie snork hier langs my .. 'n lekker en besondere dag het tot sy einde gekom.

Friday, March 25, 2011

Johannesburg na Engelberg

Op Donderdag 24 Maart 2011 is ek en 'n baie opgewonde Bennie lughawe toe rondom 16:30. Ons is redelik vroeg en besluit om vinnig 'n sushi deur te werk voordat ons in besigheidsklas gaan wag vir die vlug om te vertrek.

Presies op tyd, 20:20 vertrek SA260 en twee sitplekke is voor ons oop - ek eis dit dadelik op en dit beteken ons slaap darem minder ongemaklik. Bennie het gou gou die TV-ontspanningskanaal uitgesorteer en hang aan die lippe van MegaMind, 'n redelike nuwerige fliek wat nou ook in Suid-Afrika in die Cinemas is.

Ons slaap albei redelik goed en word net na 5 gewek deur helder ligte vir ontbyt. In Frankfurt is dit natuurlik weer die pynlike proses van doeane en deurgesoek te word en hardloop vir ons vlug na Zurich. Ek en Bennie is slaggereed 8:30 voor die hek waar ons moet wees vir die Zurich vlug, net om uit te vind in Frankfurt is dit nou eers 7:30 - ons moes ons horlosies 1 uur terug draai. Daar het ons toe darem tyd vir 'n rustige koffie voor ons Zurich toe vertrek.

Ons land net na 10 in Zurich en is min of meer rondom 12 uur in Lucern. Daar is egter iets met die treine verkeerd en ons moet die laaste skof tot in Engelberg per bus afle.

Gelukkig laai die bus ons toe reg voor ons hotel af .. wat 'n plesier om nie rond te hardloop met tasse in die dorp op soek na 'n hotel nie. Die hotel is nie baie nuut en modern nie maar vir 'n drie-ster meer as wat ons voor kon hoop. Ons kry 'n lieflike groot kamer met 120 grade se vensters oor die Alpe - die son skyn by al die vensters in wat die kamer amper te warm maak. Hier is ons uitsig van een kant van die kamer.

Die hoogste prioriteit na 'n lekker stort is om vir Bennie hulp te kry vir more se snow-board sessie. Ons kry uiteindelik 'n vriendelike jong Duitsertjie wat Bennie help - eintlik mag sy nie want sy is al klaar vol geboek, maar ek dink sy het gesien hoe desperaat is hierdie Afrikane .. Net om die Snowboard skoene en bord uit te kies en te pas hou ons 'n goeie uur besig.

Die volgende groot ding is om Bennie te laat voel hoe voel sneeu - so sleep hy my amper half pad uit die dorp uit tot by die naate sneeu ..

Oral is die ski-ers besig om by kroee hulle voldag avonture af te sluit met alkoholiese verfrissings .. ek en Bennie werk 'n bordjie tjips deur net om die ergste honger te stil. Laat aand gaan span ons uit by AlpenClub waar ons 'n heerlike aandete nuttig - my kredietkaart kreun en ek vermoed van more af is ek en Bennie op 'n brood dieet.